top of page

Trotse EHS Graad 11 leerders ontvang streepbaadjies

Content Supplied

Na die oorhandiging van die baadjies, is die Skoolbybel oorhandig aan die hoofdogter vir 2023, Mienke Cloete, as simbool van geloof.

Op 24 Oktober het Hoërskool Ermelo hulle jaarlikse seremonie gehou waar die Graad 11’s hul streepbaadjies ontvang het. Die spesiale funksie behels die oorhandiging van EHS se kenmerkende streepbaadjies aan volgende jaar se matrieks. Die leerders antwoord op ‘n erekode, waarna hulle op die verhoog staan en hul ouers die geleentheid kry om die gewone groen baadjie te vervang met die besondere streepbaadjie. Die simboliese waarde hiervan is iets wat die Erries na aan die hart lê. Dit dui aan dat jy as Graad 12-leerder deel is van die leiers van die EHS en ‘n voorbeeld stel vir dié wat na jou moet opkyk. Na die oorhandiging van die baadjies, is die Skoolbybel oorhandig aan die hoofdogter vir 2023, Mienke Cloete, as simbool van geloof met die wens: “Glo in God en glo in die toekoms. Neem dit as ‘n lig vir jou pad – ook vir die Erries.” Die skoolvlag is oorhandig aan die hoofseun vir 2023, Johan Strauss, as simbool van eenheid – eenheid in wil en eenheid in strewe. Die wens wat gepaardgaan met dié vlag, is: “Neem dit en bou ‘n beter toekoms vir ons skool en ons land.” Mag die matrieks van 2023 die waarde en tradisie van die streepbaadjies ter harte neem en leiers wees, waar hul pad ookal heen mag lei.

- Inhoud en foto verskaf deur EHS

bottom of page