Hoërskool Ermelo wen TWK Hoëveld Interhoër
SM HATTINGH
24 February 2022
Beste Dogterspan van die dag - Hoërskool Ermelo, 84 medaljes (33 Goud, 31 Silwer en 20 Brons).
Op Saterdag, 19 Februarie, is die jaarlikse Hoëveld Interhoër deur Hoërskool Oosterland by die Secunda stadion aangebied. Die deelnemende skole was as volg: Hoërskool Ermelo, Hoërskool Rob Ferreira, HTS Witbank, Hoërskool Middelburg, Hoërskool Oosterland, Hoër Volkskool Heidelberg en Ligbron Akademie vir Tegnologie. Die Errie-atlete was vroeg uit die blokke, en het reeds sedert die eerste item getoon dat hul daar was om te wen.
Daar was deurlopend aanskoulike atletiek op die baan, sowel as op die veld. Elke Errie het met deursettingsvermoë, motivering en trots deelgeneem en hul beste gegee. Dit is hierdie veggees en hardwerkende gesindheid wat die Erries bo aan die punteleer geplaas het. Die uitslae was as volg: Algeheel: 1ste Plek - Hoërskool Ermelo, 2de Plek - Hoërskool Rob Ferreira, 3de Plek - Hoër Volkskool Heidelberg. Trofeë vir die besondere prestasies van die dag: Beste Worpe Jnr. Dogter - Elizma Swart, Beste Spronge Snr. Dogter - Mia Davel, Beste Hekkies Jnr. Dogter - Elizca Lotz, Beste Hekkies Snr. Dogter - Mia Davel, Beste Hekkies Snr. Seun - Tyrone Berning, Beste Middel- en Langafstande Jnr. Dogter - Esmarie Klopper, Senior Victor Ludorum - Tyrone Berning, Beste Dogterspan van die dag - Hoërskool Ermelo, 84 medaljes (33 Goud, 31 Silwer en 20 Brons). Hoërskool Ermelo is besonder trots op elke atleet wat deelgeneem het.
“Alhoewel atletiek ‘n individuele sport is, is Interhoër beslis ‘n spansport waar elke bydrae tot die span van groot waarde is. Dankie aan elke atleet wat sy/haar beste, op en van die baan, gegee het deur die loop van die seisoen. Dankie aan elke ouer en leerder wat hul kinders en maats met liefde en positiwiteit ondersteun het. Hoërskool Ermelo bedank ook graag al ons afrigters wat hard gewerk het om ons atlete gereed te kry om tot die beste van hul vermoë te presteer. Die Erries is trots op elkeen van julle.”