top of page

Erries woon Provinsiale Landsdienskamp by

Supplied Content

19 July 2022

Hoërskool Ermelo is trots op elkeen en is vol vertroue dat die Erries se naam hoog gehou sal word.

Hoërskool Ermelo spog vanjaar met 12 Erries wat gekies is om die provinsiale Landsdienskamp te Blyderivier Adventure Camp by te woon. Die kamp het geduur vanaf Woensdag, 29 Junie tot Sondag 3 Julie. Leerders van 14 hoërskole van regoor Mpumalanga het die kamp bygewoon. Die leerders is in 6 spanne ingedeel (A-F): groep A-C het bestaan uit gr. 8-9’s en groep D-F uit gr. 10-12’s. Waar nodig is die onderskeie groepe verder onderverdeel by die onderskeie aktiwiteite. Groeplede is geëvalueer by die volgende aktiwiteite: dam, arbeid, hindernisbaan/paintball, handvaardigheid, spele en dans. By die dam is daar ‘n individuele handroei-kompetisie gehou en elke span moes vyf opblaasbote opmekaar stapel met al die spanlede binne-in. Die arbeid het die uittrek van onkruid, die verskuiwing van hout en takke en die skoonmaak van gedeeltes van die tuin ingesluit.

Elke span moes ‘n eie dans uitwerk vir Saterdagaand se danskompetisie en by spele moes die spanne benewens struktuurbou, krete uitwerk en balspel ook ‘n eie speletjie met reëls uitdink en aanbied. Die handvaardigheid het ‘n veelvoud aktiwiteite ingesluit van geskenkbokse toedraai en boeke bind, tot bandjies maak, proppe bedraad en papierkuns bemeester. Daar is darem nie net gewerk nie, maar ook lekker ontspan by die vlooimark waar leerders hul entrepreneursvaardighede ten toon kon stel en handgemaakte items teen R5 moes verkoop. Soggens en saans is daar Bybelstudie gehou en veral saans se koffiekuiers om die kampvuur sal nie gou vergeet word nie. ‘n Kamp sal natuurlik ook nie ‘n kamp wees sonder die impromptu-toneel, ‘n sokkie, samesang en lanternbekruip nie! Vir EHS was die hoogtepunt van die kamp toe ses Erries gekies is vir die nasionale kamp wat gedurende die

Desembervakansie in die Wes-Kaap aangebied gaan word. Hartlik geluk aan die volgende leerders: Carla Bronkhorst, Franco Gibbens, Mary-Jané van der Merwe, Chané Oosthuizen, Megan McDermid en Tharina Viljoen. Hierdie leerders pluk nou die vrugte van hul goeie gedrag, harde werk en goeie spangees. Hoërskool Ermelo is trots op elkeen en is vol vertroue dat die Erries se naam hoog gehou sal word. Facta non verba! (EHS)

bottom of page