top of page

EHS-kultuur kleur gemoedere in

SM HATTINGH

10 August 2022

’n Psigiater bevind haarself in ’n sielkundige inrigting om profiele saam te stel van die pasiënte.

Die Erries se kultuurliefhebbers het op Donderdag, 28 Julie die eerste kultuuraand gehou en dié was ’n toonbeeld van die sukses wat EHS op kulturele gebied geniet. Die verrigtinge is op die gepaste wyse geopen deur die Kultuurvoorsitters, Aloné Arnoldi en Walter van der Walt. Die senior marimba-groep, onder leiding van meneer Phila Dladla, het eerste opgetree waarna ’n onvoorbereide debat tussen twee spanne plaasgevind het. Hierdie informele debat was aangebied met die doel om aan leerders wat nie bekend is daarmee nie, ’n voorbeeld te gee van wat debat behels.

Alhoewel dit informeel was, was die debatsgesprek vurig, maar pret. Me Lizanne Dippenaar, debatsorganiseerder, het leiding geneem as voorsitter. EHS se ensemble-groep het die gehoor met melodieuse klanke bekoor, ook met meneer Phila Dladla aan stuur. Die groot opgewondenheid van die aand was EHS se drie toneelstukke wat opgevoer is ter voorbereiding van die ATKV-Tienertoneelkompetisie waaraan hulle gaan deelneem op Dinsdag 2 Augustus. Die eerste stuk, “Streng geheim,” se regie word behartig deur mnr Lourie du Plooy en mnr Ruben Fouché. Tieners wat as geheime agente optree om Suid-Afrika van ’n toerisme-aanval te red, staar menige uitdagings in die gesig.

Die grootste daarvan is om hul eie identiteite ’n STRENG GEHEIM te hou. Die stuk met vele komiese gedeeltes het die gehoor laat skaterlag. Streng geheim is gevolg deur “Al wat ek wil hê” met me Zara Büchling as regisseur. Die komedie handel oor ’n meisie wat haar vorige kêrel om die bos lei nadat hy as gevolg van ’n rugbybesering aan geheueverlies ly. Haar planne en maniere om hom die “perfekte” kêrel te maak, het die gehoor behoorlik aan die lag gehad en vele eienskappe van tipiese tieners is te sien in dié stuk. Die aand is afgesluit deur “kameR-5” wat deur me Marli Murray en me Mariaan Rust afgerig word. Hierdie is ’n fiktiewe sielkundige riller wat afspeel in 2050.

’n Psigiater bevind haarself in ’n sielkundige inrigting om profiele saam te stel van die pasiënte. Sy weet egter nie dat die “Artificial Intelligence” haar misbruik vir ’n baie spesifieke doel nie. Geheimsinnig, onvoorspelbaar en boeiend is onder andere woorde wat hierdie stuk besonder goed opsom. EHS is trots op die talent wat die leerders op die verhoog ten toon stel en waardeer die disipline wat uitvoerende kunste vereis. EHS-kultuur is voorwaar aan die brand!

Groot dank aan mnr Lourens Luyt vir die video-opname van die aand, asook mnr Anton Esterhuizen vir die besondere foto’s wat geneem is. Hoërskool Ermelo wens ook die geselskappe wat aan die ATKV-Tienertoneel-kompetisie gaan deelneem, alle sterkte toe. (EHS)

bottom of page