EHS-dogtershokkie neem voortou in Mpumalanga-uitspele
SM HATTINGH
10 August 2022
Die eersteplek in Mpumalanga word gedeel deur EHS en NHS.
Op Vrydag en Saterdag 22 en 23 Julie het EHS se A-dogtershokkiespanne deelgeneem aan die Mpumalanga-uitspele. Die dogters het uitsonderlike hokkie gespeel en die tellings getuig van uitstaande hokkietalent waarop EHS trots is: Die o/14A-span wen Hoërskool Volksrust in die kwartfinaal met 4-0 en wen Hoërskool Hoogenhout in die semi-finaal met 2-1. Tydens die finaal teen Hoërskool Middelburg het die Erries weereens koning gekraai en stap as oorwinnaars van die veld af met ’n telling van 4-0. Hoërskool Ermelo se o/14A-span word gekroon as Mpumalanga-wenners! EHS se o/15A-span kom teen Hoërskool Secunda te staan in die kwart-finaal en wen met 2-0.
In die semi-finaal wen EHS Hoërskool Nelspruit met twee doele teenoor een. Die finaal was teen Curro Nelspruit en dié klop die Erries met twee doele teenoor een. Die o/15A-span is naaswenners van Mpumalanga! Die o/16A’s het uitstekende groepwedstryde gespeel en deurgedring na die kwart-finaal. Hier het hulle ongelukkig vasgeval teen Hoërskool Middelburg met ’n telling van 0-4. Die Hoërskool Ermelo KS Clothing Eerstespan hokkkiedogters se spel was voorwaar ’n plesier om te aanskou en hul oorwinnings was welverdiend. Hierdie span wen teen Hoërskool Hoogenhout met ses doele teenoor nul en wen ook teen Ligbron Akademie vir Tegnologie met ’n telling van 8-0. Die Erries speel teen Hoërskool Nelspruit in die finaal en die wedstryd eindig gelykop met een doel elk.
Die eersteplek in Mpumalanga word gedeel deur EHS en NHS. Die Erries gaan egter deur na Noordvaal as nommer een, aangesien die EHS tydens die 8-sekonde-lopies met ’n telling van 5-4 gewen het. Dankie aan elke hokkie-afrigter van die Erries vir ‘n uitstekende seisoen en baie sterkte aan elke span wat EHS gaan verteenwoordig by Noordvaal. Hoërskool Ermelo is met reg trots op die dogtershokkie! (EHS)