Drie Errie debatspanne presteer nasionaal
Op die foto voor staan (v.l.n.r) Mariska van Biljon, Bea Niemand, Chrizanne Joubert en Mienke Cloete en agter staan (v.l.n.r): Johan Strauss, JF Möller, Zané du Plessis en Isabella Burgers.
Op die foto voor staan (v.l.n.r) Mariska van Biljon, Bea Niemand, Chrizanne Joubert en Mienke Cloete en agter staan (v.l.n.r): Johan Strauss, JF Möller, Zané du Plessis en Isabella Burgers.
SM HATTINGH
3 November 2021
“Die Erries is sommer baie trots op hierdie drie spanne wat nasionaal hul debat stempel deeglik afgedruk het."
Op Vrydag, 22 Oktober, het die Con Spirito Debatkompetisie se nasionale semifinaal plaasgevind te Hoërskool Marais Viljoen in Alberton. Die deelnemende skole was as volg: Afrikaans Hoër Seunskool, Hoërskool Durbanville, Hoërskool Ermelo, Hoërskool Garsfontein, Helpmekaar Kollege, Hoërskool Linden, Hoërskool Nelspruit, Hoërskool Oos-Moot, Hoërskool Outeniqua, Hoër Meisieskool Paarl en Hoërskool Transvalia. Sestien spanne (agt voorstander- en agt teenstanderspanne) het in sowel die junior- (Graad 8-9) as die senior kategorie (Graad 10-12) teen mekaar kragte gemeet.
Mienke Cloete, Zané du Plessis, Johan Strauss, Isabella Burgers (seniors) en Chrizanne Joubert, Mariska van Biljon, Bea Niemand en JF Möller (juniors) het Hoërskool Ermelo by die kompetisie verteenwoordig. Die sestien spanne is uitgedun na die top 10 junior- en top 10 seniorspanne wat op Saterdag, 23 Oktober teen mekaar te staan gekom het. Van die vier EHS-spanne dring drie na die top 10 deur. Die spanne se uitslae was as volg: Johan & Isabella wen hul debat teen Hoërskool Outeniqua, en eindig algeheel sewende (seniors). Mariska van Biljon en Chrizanne Joubert val ongelukkig vas teen Helpmekaar Kollege, en eindig negende (juniors).
JF Möller en Bea Niemand wen hul debat teen Hoërskool Durbanville, en eindig met ‘n pragtige vyfde plek. “Die Erries is sommer baie trots op hierdie drie spanne wat nasionaal hul debat stempel deeglik afgedruk het. Ons sien met verwagting uit na 2022 en dank ons Hemelse Vader vir hierdie mooi uitslae.”