top of page

TLU SA Jongboere moedig landbou aan om die bedryf te versterk

GK CRONJE

18 May 2021

Die konferensie is afgesluit deur die president van TLU SA, mnr. Henry Geldenhuys. Hy het jong boere aangemoedig om as ‘n kliphoeksteen sterk te staan in die gemeenskap.

Suzuki Ermelo (WEB) 22 September 2020.jp

TLU SA het boere regoor die land tydens die onlangse Jongboerkonferensie sterk aangemoedig om by georganiseerde landboustrukture aan te sluit om die uitdagings wat die bedryf ervaar, saam aan te pak. Die Jongboerkonferensie word jaarliks aangebied, maar moes verlede jaar as gevolg van die inperking afgestel word. Vanjaar is die konferensie fisies by die hoofkantoor in Silverton, Pretoria aangebied en regoor die land gestroom via die Zoom-platform. Groot groepe jong boere het bymekaar gekom en die verrigtinge regstreeks oor hulle skerms gevolg. Die TLU SA Jongboerkonferensie 2021 is in samewerking met die borge Santam Landbou, Nedbank, NWK, die Solidariteit Beweging, Agri All Africa, Obaro en die LWO Werkgewersorganisasie aangebied. Die tema van vanjaar se konferensie, Die waarde van ‘n boer is deur al die sprekers beklemtoon. TLU SA se hoofbestuurder, mnr. Bennie van Zyl het die waarde van boere onderstreep deur te verwys na hoe landbou dwarsdeur die COVID-19 inperking voedsel aan die land verskaf het, onder baie moeilike omstandighede.

Hy het gesê dat landbou die enigste bedryf was wat tydens hierdie tye gegroei het, maar dat dit ook die bedryf is wat verskeie uitdagings ervaar wat die voortbestaan van landbou en boere bedreig. Hy het boere bedank vir hulle bydrae tot die land maar ook gemaan dat hulle die Godgegewe grond verantwoordelik en winsgewend moet bestuur. “Ons mag ons koppe hoog hou en ons moet ons koppe hoog hou. Maar gemeenskappe moet hande vat en bou en konstruktief wees in die omgewing. Ons moet saam staan,” het hy gesê. Tydens die konferensie is ook ooreengekom dat die bestaande Jongboerkomitee met hulle taak sal voortgaan sonder om van bestuur te verander. Die voorstel is sonder teenkanting aanvaar. Die voorsitter van die TLU SA Jongboerkomitee, mnr. Henna du Plessis het jong boere op sy beurt ook aangemoedig om by georganiseerde landbou aan te sluit. Hy het die waarde van ‘n organisasie soos TLU SA beklemtoon deur na sy eie ervaring te verwys.

TLU SA het hom ondersteun om finansiering te kry nadat hy op sy eie nie daarin kon slaag nie as gevolg van die Landbank se wanbestuur. Deur die TLU SA-netwerk het hy ook die ondersteuning van die LWO Werkgewersvereniging met arbeidskwessies waarmee hy nou te doen het. “Dit is nodig om 'n ondersteuningsnetwerk te hê as boere. Sluit aan by TLU SA,” het hy gesê. Die hoogtepunt van die konferensie was ‘n aanbieding van TLU SA se Jongboer van die Jaar 2020, mnr. Danie Bester oor die gebruik van presisie tegnologie in landbou. Hierdie tipe boerdery is daarop gemik om winsgewendheid te verhoog deur tegnologie in te span om sodoende hulpbronne optimaal te benut. Die volledige aanbieding sal binnekort op TLU SA se webwerf beskikbaar gemaak word sodat ander jong boere van die inligting gebruik kan maak.

Die konferensie is afgesluit deur die president van TLU SA, mnr. Henry Geldenhuys. Hy het jong boere aangemoedig om as ‘n kliphoeksteen sterk te staan in die gemeenskap. “Jongboere, landbou het jou nodig,” het hy gesê. “Jy is die toekoms van landbou, maar jy het ook ‘n landbou organisasie nodig en dit is TLU SA. Raak betrokke, dit is jou spreekbuis. Jong boer, jy het waarde in die voedselwaardeketting.”

bottom of page