MPU Veiligheid verseker dat jy gerus jou geliefdes kan besoek
GK CRONJE
22 February 2022
Die eerste stap sal wees om die gras te sny, en kort te hou op die gronde.
Op Sondag, 20 Februarie 2022, het lede van Mpumalanga Veiligheid, wat bestaan uit verskeie organisasies se plaaswagte, TLU, AfriForum en sektor buurtwagte, sowel as Spartan Training, hulp verleen aan besoekers van Ermelo begrafplaas. Dié diens, wat gratis deur die lede gebied word, verseker dat die gemeenskap van Ermelo met ‘n geruste hart hul geliefdes se grafte kan besoek. Die lede patroleer die gronde, en vergesel besoekers regoor die begrafplaas.
Die lede verseker die veiligheid van besoekers, is op die uitkyk vir enige verdagte gedrag van individue wat kortpad sny oor die gronde. Die lede is ook besig om ‘n plan te beraam om die mure en hekke te herstel wat deur boosdoeners beskadig of verwyder is. Die span sal elke derde Sondag van die maand die gronde patroleer, by beide die ou en nuwe begrafplase, en nooi graag lede van die gemeenskap om oë te wys tussen 12:00 en 14:00. Almal is welkom om die begrafplase te besoek, en daar is geen koste verbonde aan die diens nie. Die lede wil graag ook ‘n versoek rig aan besigheidseienaars en lede van die gemeenskap wat betrokke wil raak by die instandhouding en opknapping van die begrafplase om besoeke te vergemaklik.
Die eerste stap sal wees om die gras te sny, en kort te hou op die gronde. Enige persoon wat sou wil betrokke raak, of meer informasie verlang, kan Henry Geldenhuys by 083 560 1273, Frikkie du Plessis by 078 803 3102 of Jaco Kirk by 081 325 7259 kontak. Sien meer foto’s en video’s op ons Facebook blad, Tribune Ermelo.