top of page

Lyke ontbind in staats lykshuis

GK CRONJE

5 July 2022

Lykshuis koelkamers is al minstens twee weke buite werking, wat daarnatoe lei dat die lyke ontbind as gevolg van die gebrek aan verkoeling.

Suzuki Ermelo (WEB) 22 September 2020.jp

Die Tribune het ‘n steurende anonieme wenk ontvang vanaf ‘n fluitjieblaser, rakende die toestand van die lykshuis koelkamers by die Ermelo Provinsiale Hospitaal, wat beide die hoof koelkamer, sowel as by die forensiese afdeling insluit. Na aanleiding van bewerings is dié lykshuis koelkamers minstens twee weke buite werking, wat daarnatoe lei dat die lyke ontbind as gevolg van die gebrek aan verkoeling. Bewerings rakende die beperkte spasie by een van die koelkamers is ook kommerwekkend, waar lyke na bewering op mekaar gestapel word. Dié koelkamers se wisselvallige werking word na vermoede toegeëien aan die munisipaliteit se onvermoë om stabiele elektrisiteitstoevoer te verskaf, sowel as Eskom se onlangse beurtkrag. Na bewering is die kragopwekker nie genoegsaam om die lading te hanteer nie. Die Tribune het Ermelo Provinsiale Hospitaal se Korporatiewe Dienste gekontak rakende die bewerings. Dié het egter doodluiters en ongeskik geweier om enige informasie te verskaf, of om die bewerings te ontken. Die hoof uitvoerende beampte se kontak nommer was ten tye van kontak direk na stempos.

Dumisani Malamule, woordvoerder vir die provinsiale Departement van Gesondheid, het terugvoer verskaf vanaf die departement, en lui as volg: “Die Departement wil graag meld dat daar geen lyke is wat op mekaar gestapel is nie. Lyke word deur hul familielede opgeëis onmiddellik nadat hulle van hul dood ingelig is. Die gesinne sou gewoonlik hul eie private begrafnisondernemer aanstel wat die liggaam tot begrafnis sal hou. Die enigste lyke wat in die forensiese lykshuis is, is dié wat wag vir die nadoodse ondersoek. Daar is ook baie min liggame wat ons armlastiges noem. Dit is liggame wat onbekend is. Gewoonlik, na 'n sekere tydperk, word die liggame deur die staat begrawe as niemand na vore kom om dit op te eis nie. As gevolg van die feit dat hierdie liggame vir langer tydperke in die lykshuis was terwyl hulle wag vir prosesse om moontlike familielede op te spoor, sal hulle 'n ongemaklike reuk afgee, selfs wanneer die yskaste in 'n werkende toestand is. Ja, die yskaste is geraak deur die lang ure se beurtkrag, wat gelei het tot hul beskadiging en nie-werkende toestand. Die Departement het toe 'n diensverskaffer aangestel om dit met onmiddellike effek te herstel, maar daar was 'n mate van vertraging van die diensverskaffer se kant af, en dit het daartoe gelei dat die liggame selfs meer onaangenaam ruik. Maar vanaf verlede week het die diensverskaffer die yskaste herstel, en hulle is nou in werkende kondisie. Die Departement is tans besig met Msukaligwa Plaaslike Munisipaliteit om 'n manier te vind om die onbekende lyke te begrawe, aangesien dit volgens wet die verantwoordelikheid bly van plaaslike munisipaliteite om die lyke te begrawe wat nie opgeëis is nie.”

bottom of page