LUR Shongwe besoek Ermelo, bedank plaaslike GPF
GK CRONJE
7 June 2022
Shongwe het ook ‘n skerp waarskuwing uitgestuur na SAPS lede en bevelvoerders wat die werk van die GPF ondermyn.
Vusi Shongwe, LUR vir veiligheid en sekuriteit in Mpumalanga, het op Vrydag, 3 Junie 2022, Ermelo besoek om sy lof uit te spreek teenoor die plaaslike Gemeenskaps Polisie Forum (GPF). Die GPF, wyer bekend as CPF, is doodgewone lede van die gemeenskap wat hand aan hand met die SAPS en ander sekuriteit sektors werk om misdaad te bekamp. Dié lede ontvang egter tot hede geen vergoeding vir hul diens aan die gemeenskap nie, en doen die vrywilligheidswerk per eie keuse. Shongwe het egter tydens sy toespraak aan die SAPS, stasiebevelvoerders en GPF lede, gestaaf dat hy ‘n skrywe gerig het aan die regering om fondse opsy te sit vir toelae aan aktiewe GPF lede.
Shongwe het sy opregte waardering uitgespreek teenoor die lede van die GPF, wat ‘n tasbare verskil maak in die misdaadsyfer in Ermelo en die omliggende omgewing. Shongwe het ook ‘n skerp waarskuwing uitgestuur na lede en bevelvoerders wat die werk van die GPF ondermyn, en versuim om hul samewerking te verleen tydens patrollie en misdaad tonele. Shongwe het verder die misdaad situasie in Ermelo betreur, veral met fokus op die bendes wat die informele nedersettings se inwoners teister, beroof, verkrag en vermoor op ‘n daaglikse basis. Hy het bevestig dat ‘n daadwerklike plan van aksie in die pyplyn is om die bende geweld te stuit, en uiteindelik op te los.
Die departement het ‘n skenking aan die GPF lede oorhandig, wat bestaan uit ‘n GPF baadjie en kep met die embleem, sowel as ‘n swaardiens flitslig, wat uiteraard handig te pas sal kom in Ermelo se donker woonbuurte. Sien meer foto’s, sowel as die LUR se “live stream” toespraak op ons Facebook blad, Tribune Ermelo.