top of page

Kleintjie publiseer vierde digbundel

GK CRONJE

7 June 2022

"In elke publikasie is daar gedigte vir almal, en van oud tot jonk kan dit lees. Die gedigte is maklik verstaanbaar, en elke gedig vertel ‘n storie. "

Suzuki Ermelo (WEB) 22 September 2020.jp

Kleintjie Smalberger (Strydom) is ‘n hoogs talentvolle dame, wat asems laat snak met haar pragtige woorde wat sy pen. “Ek skryf tans hoofsaaklik poësie... Dit lê my baie na aan die hart. Dit is baie goeie terapie, en is vir my ontspannend. My grootste aansporing was maar omdat ek al soveel hartseer en ongelukkige tye beleef en ervaar het. My groot liefde vir die Groot-Karoo, asook groot heimwee na my grootword dorp deel ook in my gedigte. Alles wat mooi en kosbaar is vir my, moet ek egter neerpen. Fotografie, musiek en die mooie natuur vorm alles deel van my skryfwerk,” het Kleintjie aan die Tribune gesê. “Dinge wat ons land raak, asook ons boere in erge droogte tye het my vinnig laat voel ek moet daaroor skryf. Dan natuurlik ook ons destydse spoorweë en hawens, vir wie ek ook gewerk het, het my genoop om daaroor te skryf.”

Kleintjie het onlangs haar vierde digbundel laat publiseer, en het gesê dat dit nogal baie aangenaam voel om die uiteindelike fisiese digbundel in haar hande vas te hou. In elke publikasie is daar gedigte vir almal, en van oud tot jonk kan dit lees. Die gedigte is maklik verstaanbaar, en elke gedig vertel ‘n storie. “Ek beskou myself as ‘n romantikus en dromer. Ek is ook egter deeglik bewus van al die hartseer en onaangename dinge van ons samelewing. Lewensrealiteite is soms niks aangenaam nie. Om oor hierdie tipe dinge te skryf, maak my soms baie hartseer, maar dit moet ook uitgelaat word sonder om ander te na te kom. Ongelukkig moet ek as digter en skryfster my woorde mooi kies,” sê Kleintjie.

Sy het ook vir ‘n jaar lank vir die Insig Koerant in Ermelo ‘n rubriek geskryf, wat goeie reaksie uitgelok het. Kleintjie het die afgelope jaar begin konsentreer op kortverhale skryf, en het gesê dat sy dit baie aangenaam vind. Baie van die verhale is fiksie, en sommiges is fiksie gemeng met ware lewensgebeure. “Ek beplan, indien alles goed verloop, en indien ek gespaar bly, om ‘n kortverhaal omnibus te laat publiseer teen Desember 2022. Dit sal dan my debuut kortverhaal boek wees. Ek glo die lesers sal dit ook baie geniet.” Huidiglik werk Kleintjie aan haar vyfde digbundel, en beplan om dit binne die volgende twee maande te laat publiseer.

“Dit is nogal baie tikwerk, waarvan die stilsit seker die ergste is. Vir almal wat ‘n droom het wat hul wil najaag, sou ek sê gaan daarvoor, en moet nooit ophou glo of tou opgooi nie. Byt vas, en druk deur. Eendag word daardie groot droom waar.” sluit sy af. Kleintjie se nuutste digbundel, genaamd “Aberdeen se Roep”, asook haar reeks van van drie, Windpomp Dans, is beskikbaar vir lesers se genot via Mar-Leo uitgewers. Belangstellendes kan Kleintjie gerus kontak by 066 564 1992, of via e-pos kleintjiestrydom@gmail.com.

bottom of page