Klarissa se ligaam gevind
GK CRONJE
26 January 2021
Sy is deur die rivier se stroom meegesleur. Haar vriende het verbete probeer om by haar uit te kom, maar sy het te ver gedryf.
Klarissa Joubert, die 19-jarige student wat sedert Donderdagaand in die Oranjerivier vermis is, se liggaam is naby aan die punt waar die fratsongeluk gebeur het gevind. Orania Veiligheidsdienste, die Suid-Afrikaanse Polisie en amptelike dorpsverteenwoordigers is op die toneel om die reuse operasie wat oor etlike dae gestrek het af te handel. Tydens die soektog het Orania se amptelike veiligheidsgroepe, OraniaMED24, die Suid-Afrikaanse Polisie, boere uit die omgewing, en 100de vrywilligers dag en nag saamgewerk om Klarissa te vind. Die Orania-gemeenskap, die omliggende boere en amptelike strukture se samewerking is ‘n duidelike bewys van die vermoë wat ontsluit kan word as ‘n gemeenskap saamwerk na ‘n gemeenskaplike doel, selfs in ‘n baie traumatiese tyd. Tydens die soektog is daar ‘n wye
ondersteunersnetwerk gevorm, wat alles van kos en brandstof tot gebede en ondersteuning omvat
het.
Die familie het opregte dank aan die gemeenskap van Orania, die vrywilligers, hulle vriende van Ermelo, die SAPD en elke helper uitgespreek. Die familie het ‘n ernstige beroep gedoen dat media en ander persone hulle privaatheid respekteer, hulle nie skakel nie en alle navrae deur die amptelike woordvoerder doen. Die grootskaalse soektog oor etlike na Klarissa, het die hele Suid Afrika se harte geraak, met gebede, hulp en donasies wat ingestroom om die meisie op te spoor. Die Orania Veiligheidsdienste, veiligheidspanne, die polisie van Kimberley se soektog- en reddingspan, vrywilligers, vlieëniers van ‘n mikroligte vliegtuie en hommeltuie, stapspanne, bootspanne, asook boere in die omgewing het hande gevat in die soektog. Joost Strydom, voorsitter van die Orania Beweging, het drie helikopters beskikbaar gestel om die roete en oewers te fynkam.
Klarissa, ‘n sielkundestudent, het Donderdagmiddag saam met vriende op binnebande op die rivier gedryf, toe sy afgeval het. Sy is deur die rivier se stroom meegesleur. Haar vriende het verbete probeer om by haar uit te kom, maar sy het te ver gedryf. Hulle het hulp ontbied, en sodoende was die soektog afgeskop.
Klarissa Joubert
Onskuldige reis as jong vrou,
Het sy die silwerblink water vetrou.
Gedans op die ritmiese golf-rivier,
en geskaterlag in die somerplesier.
Maar binne sekondes, Klaris
Was die golwe sterk en seer.
Die nimmereindigende storm het bly woed-
Al het ons probeer keer.
Mismoedige hart, en soekende gees:
Bid tot God, al spreek die vrees.
Wankelede bene en rou gemoed:
Smeek om hulp teen die storm wat woed.
Nou Soekend, worstelend en vraend-
Langs die Oranje-massa se spoel-
Kniel ‘n gemeenskap en sing,
dat hemelse-musiek jou huis toe sal bring.
Jesus-lied strek oor die waters heen,
En vra vir nóg n kans geleen.
Sodat ons sonskyn-kind weer kan dans-
In onse arms: haar Lewegewende kans.
- Elmé Strauss