top of page

Hooggeregshof gee winkelsentrum-teenstander ‘n bloedneus

GK CRONJE

18 May 2021

Laastens het Regter Mankge bevestig dat II8 gefaal het om ‘n daadwerklike saak te bou, en dat hul papierwer, aansoeke en beëdigde verklarings in menigte gevalle in konflik is met die drie pilare benodig.

Suzuki Ermelo (WEB) 22 September 2020.jp

In die lig van die gevraagde uitspraak wat deur die Tribune ePaper aangevra is, is daar goeie nuus vir die inwoners van Ermelo en die mliggende omgewing. Na ‘n struweling en talle hofsake wat vanaf ongeveer 2015 voordwoed, het eerbare Regter AJ Mankge, waarnemende regter van die hooggeregshof van Suid Afrika, die finale uitspraak gelewer rakende dié kwessie. Vroeg in 2015 het inwoners met groot opgewondenheid verneem van 'n beplande winkelsentrum, Plateau Mall (voortaan bekend as Merino Mall), wat gebou sou word in Voortrekkerlaan, waar die Ermelo Skougronde tans geleë is. Die projek word bestuur deur die Moolman Group, 'n bekende ontwikkelaar met talle suksesvolle projekte en ontwikkelings op hul kerfstok. Hierdie vlagskip-konstruksieprojek, wat as 'n ontwikkeling van 30,000 m² beskou word, sou 'n voltooiingsdatum van April 2020 hê, en menigte nuwe kettingwinkels sou huisves, het onmiddellik 'n groot plons in die gemeenskap gemaak.

Ongelukkig het die opgewondenheid mettertyd in onsekerheid verander nadat geen aanduiding van enige bouproses sigbaar was nie. Die gemeenskap het gewoeker, en doen steeds, met gerugte oor beweerde politieke invloed wat 'n rol in die besware gespeel het. Die konstruksie van die sentrum is telkens vertraag deur beswaar wat aangeteken was deur Ilangabi Investments 8 (PTY) Ltd (II8), wat ook verbind word met Samuel "Dube" Democracy Zwane. Alhoewel die Moolman Groep (MG) en Msukaligwa Plaaslike Munisipaliteit (MLM) tot ooreenkoms gekom het rakende die konstruksie, en alle bouplanne en nodige aansoek en papierwerk die groen lig ontvang het, het Ilangabi Investments 8 keer op keer ‘n stokkie probeer steek voor die konstruksie van die winkelsentrum. Die regspan van II8 het aangevoer dat die aansoek deur die MG van die hand gewys moet word, en deur ‘n munisipale beplanningstribunaal by MLM hersien moes word. II8 het op verskeie geleenthede die aansoek deur die MG teengestaan, met besware wat telkens van geen toepassing op die winkelsentrum se aansoek gehad het nie.

Die regter het dit bekend gemaak dat volgens II8 se stigtingspapiere, besit hul ongeveer 22ha ontwikkelingsgrond in Wesselston, uitbreiding 8, waar hul beweer om regte te hou vir ‘n konstruksieplan vir ‘n winkelsentrum. Die MG was regte toegestaan vir konstruksie te Ermelo, uitbreiding 47 (skougronde). Ter aansoek deur die MG, was die ontwikkeling deur die MLM stadsbeplanning aangeraai vir goedkeuring. MLM het egter in April 2018 hul deuntjie verander, en aangekondig dat die bogenoemde aansoek van die hand gewys gaan word. Die MG het egter appél aangeteken, wat toegestaan is aan die MG. II8 het egter weereens beswaar aangeteken, en beweer dat hul belange beïnvloed word deur die Merino Mall se ontwikkeling. Regter Mankge het egter aangedui dat dié belange van so aard moet wees dat dit nie te abstrak of akademies moet wees nie, en dat die belange aktueel moet wees. Die regter het egter beslis dat II8 geensins genoegsame bewyse voorgelê het dat hul belange in aktualiteit beïnvloed word nie. Die regter het ook beslis dat II8 nie aan die drie pilare van ‘n waterdigte saak voldoen het nie, wat insluit dat die aansoeker ‘n eienaaar van die grond en belastingbetaler is, dat die aansoeker goedgekeurde ontwikkelingsplanne het, en dat die aansoeker bevordering van administratiewe geregtigheid (PAJA) se terme nie verontagsaam word nie. II8 het dus ook met alle mag probeer om die ontwikkeling teen te staan deur Seksie 33 van die grondwet holrug te ry, wat kortliks dui dat enige persoon mag beswaar aanteken teen onwettige gebeurtenisse.

Verder het Regter Mankge aangedui dat II8 geensins deel was van die aanvanklike besprekings tussen die MG en MLM nie, en ook nie deel was van die besprekings wat die appèlowerheid ingesluit het nie. Die regter het ‘n bloedneus toegedien aan II8 deur te beslis dat hul belange geensins beïnvloed sal word deur die MG nie, dat II8 gediskwalifiseer word in terme van PAJA siende hul nie genoegsame bewyse kon voorsien nie, en dat II8 nie meer die eienaar is van die ontwikkelingsgrond soos aangedui in hul appél nie. Die regter het beslis dat II8 se saak verbrokkel het deur die feit dat hul regte verval het in Oktober 2020. II8 het egter gefaal om genoegsame bewyse te lewer dat daar in enige opsig inbraak gemaak word op hul belange. Regter Mankge het ook verwarring getoon deur die skielike aanslag deur II8 op die MG in 2020, maar vanaf 2016 gesloer het met die saak nie.

Die saak was verder vererg deur ‘n appél wat II8 aangeteken het in Maart 2021, waar hul hulsef gedui het as grondeienaars van hulle beweerde ontwikkeling, maar hul het egter die grond geregistreer aan ‘n verskillende eienaar in Desember 2020. Laastens het Regter Mankge bevestig dat II8 gefaal het om ‘n daadwerklike saak te bou, en dat hul papierwer, aansoeke en beëdigde verklarings in menigte gevalle in konflik is met die drie pilare benodig. Die beslissing is aangekondig dat II8 se vermorsing van die hof se tyd nie genoegsaam was om ‘n boete op te lê nie. Regter Mankge het wel beslis dat II8 verantwoordelik gehou word vir die regskostes aangegaan deur die MG groep, insluitend die indiensneming van twee advokate, waar van toepassing.

bottom of page