top of page

Geliefde hoof verloor COVID-19 stryd

GK CRONJE

23 March 2021

Onlangs het Morné 'n lewenslange doel bereik deur hoof van Laerskool Marietjie van Niekerk te word.

Suzuki Ermelo (WEB) 22 September 2020.jp

Dit is met diepe hartseer dat ons die afsterwe van Morné Scholtz (49) van Bethal aankondig. Morné is op 16 Maart 2021 in die Milpark-hospitaal, Johannesburg, vreedsaam oorlede na 'n geveg met COVID-19. Morné is gebore aan Jacob Salmon en Christina Caterina (Botes) Scholtz op 23 Februarie 1972, in Sasolburg. Hy het sy skoolopleiding in Secunda aan die Laerskool Secunda en Hoërskool Secunda voltooi, en was hoofseun by albei instellings. Nadat hy in die weermag diens gedoen het, het hy 'n graad aan die Onderwyskollege in Pretoria voltooi.

Hy het later 'n meestersgraad in onderwys aan die Universiteit van Noordwes voltooi. Gedurende sy onderwysloopbaan het Morné die lewens van baie studente, ouers, kollegas en lede van die gemeenskap aangeraak. Deur sy passie, humor, ondersteuning, omgee, leiding en leierskap het hy lewens positief beïnvloed oral waar hy gegaan het. Onlangs het Morné 'n lewenslange doel bereik deur hoof van Laerskool Marietjie van Niekerk te word. Onderwys, en om lewens te verryk, was vir hom van die allergrootste belang, en sy trots op sy werk was duidelik vir almal wat hom ontmoet het. Morné het diep spore in baie mense se lewens getrap. Morné laat twee seuns, MJ en Franco agter, asook drie broers Jacques, Bennie en Marius. As gevolg van die huidige pandemie, sal 'n klein en intieme gedenk diens gehou word om die herinnering van 'n man, wie se liefd geen perke geken het nie, te vier. - Inligting verskaf deur Laerskool Marietjie van Niekerk

bottom of page