top of page

Geen gedwonge inenting vanaf werkgewers

GK CRONJE

22 June 2021

“Voorts is elke persoon ingevolge ons Grondwet op liggaamlike integriteit geregtig, wat beteken dat elke persoon dan ook die reg het om oorwegend self te besluit oor enige moontlike gesondheids- of mediese intervensies.”

Suzuki Ermelo (WEB) 22 September 2020.jp

Enige algemeen-geldende besluit om inenting verpligtend te maak, sal onwettig wees. Solidariteit het ʼn omvattende regsmening van eksterne advokate bekend gemaak wat wys dat enige eensydige besluit om inenting verpligtend in die werkplek te maak, nie in ʼn hof sal steek hou nie. Solidariteit het ook met ʼn omvattende proses onder sy lede begin om ʼn mandaat te kry om enige sodanige algemeen-geldende besluit van werkgewers om inenting verpligtend te maak, te beveg. “Volgens die regsmening is dit duidelik dat werkgewers binne die arbeidsregsraamwerk moet funksioneer, en dat dié raamwerk nie voorsiening maak vir verpligte entstoftoediening aan werknemers nie,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. “Voorts is elke persoon ingevolge ons Grondwet op liggaamlike integriteit geregtig, wat beteken dat elke persoon dan ook die reg het om oorwegend self te besluit oor enige moontlike gesondheids- of mediese intervensies.”

Solidariteit voer aan dat terwyl sommige proponente van verpligte werkplekinenting graag aanvoer dat die werkgewer ingevolge die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid (No. 85 van 1993) sodanige reg het, skryf die wet egter voor dat daar ʼn behoorlike konsultasieproses met ʼn werknemer moet plaasvind, en dat alle moontlike remedies eers uitgeput moet word alvorens ʼn werkgewer drastiese stappe mag oorweeg. “Nadat ons deur navrae oor verpligte inenting by werkplekke oorval is, het ons die regsmening ingewin. Volgens die opinie is dit duidelik dat die voordeel van keuse sterk ten gunste van ʼn werknemer sal wees,” verduidelik Hermann. “Dit is eenvoudig onwettig vir ʼn werkgewer om ʼn werknemer te verplig om ingeënt te word, en daar kan selfs geargumenteer word dat dit strafregtelik en grondwetlik inbreuk maak op elke individu se persoonlike reg tot liggaamlike integriteit. Ons sal nie huiwer om ons lede met die volle mag van die reg te beskerm, indien werkgewers sulke drastiese besluite neem nie,” sluit Hermann af.

bottom of page