top of page

Dr. Rian Swart lê sy stetoskoop neer

SH HATTINGH

23 February 2021

Sy aftreeplanne is om meer betrokke te raak by die boerdery, asook om in Jeffreysbaai te gaan kuier, waar Riekie ‘n huis het en waar haar kinders woon.

Suzuki Ermelo (WEB) 22 September 2020.jp

Dr. Swart, ‘n welbekende in Ermelo, nie net onder die medici nie, maar ook onder die boere en gemeenskap, het besluit op die ouderdom van 78 jaar sy stetoskoop neer te lê. Hy is op 13 Julie 1942 in Amersfoort gebore. Hy was in Piet Retief in die laerskool, en het sy Hoêrskool loopbaan voltooi by Hoêrskool Ermelo. Dr. Swart het sy MBChB graad verwerf by die Universiteit van Pretoria , waarna hy vir ses jaar in Kroonstad gepraktiseer het. In 1973 verloor dr. Swart sy vader, en is genoodsaak om terug te keer Ermelo toe. Hy begin saam met vier ou manne werk, drs. Van Niekerk, Van Rensburg, De Bruin en Visagie. Met tyd wat aan gestap het, het van die dokters afgetree, en hy moes vennote kry om saam met hom te praktiseer. Dr. Swart en Vennote, wat bestaan uit Drs. Van Der Poel, Botha en Olivier, vier hul 47ste bestaansjaar die jaar. Hy het die voorreg gehad om meer as vierduisend babas in die wêreld in te kan bring. Tydens ‘n onderhoud met Dr. Swart, het hy aan die Tribune gesê daar was meer hoogtepunte in sy beroep gewees as wat daar laagtepunte was.

Dit was altyd vir hom ‘n hoogtepunt as hy sy pasiënte kon gesond maak, of wanneer daar geopereer moes word, en die operasie ‘n sukses was. “Wanneer ek weet ek het ‘n operasie om te doen, dan het ek die vorige aand, asook die oggend gebid, en vir die Liewe Vader gevra om my te help tydens die operasie dat alles goed sal afloop. Ek het altyd op die Here vertrou, dit wat ek weet is baie maar die Here weet baie meer.” sê Dr. Swart. Hy verloor sy huweliksmaat, Miemie, vroeg in 2019, en het gedink hy sal die res van sy pad alleen stap. Die egpaar was vir 53 jaar getroud. Op 27 Junie 2020 trou hy egter weer met ‘n ou vriendin, Riekie, wat ook haar lewensmaat verloor het.

Sy aftreeplanne is om meer betrokke te raak by die boerdery, asook om in Jeffreysbaai te gaan kuier, waar Riekie ‘n huis het en waar haar kinders woon. “Ek was baie lief vir my werk, en gaan defnitief terug verlang na die werk. Ek het ‘n baie aangename vennootskap met die ander dokters gehad, en dit was vir my ‘n groot voorreg om saam met hulle te kon werk.” sluit Dr. Swart sy onderhoud af met ‘n groot glimlag op sy gesig.

bottom of page