top of page

AfriForum water-uitslae laat wenkbroue lig

GK CRONJE

12 January 2022

“AfriForum se nasionale blou-en-groendruppelprojek fokus op die stand van dorpe se drinkwater- en rioolaanlegte."

Suzuki Ermelo (WEB) 22 September 2020.jp

AfriForum het in 2021 verskeie dorpe in Mpumalanga se water getoets om die gehalte van dié dorpe se drink- (bloudruppelstatus) en rioolwater (groendruppelstatus) te bepaal. “Ons kon vasstel dat al die dorpe in die provinsie se drinkwater aan die minimum standaarde voldoen en geen skadelike bakterieë bevat nie. AfriForum sal die watergehalte deurlopend toets want inwoners het ’n grondwetlike reg tot skoon drinkwater,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mpumalanga.

In Ermelo is beide die drink- en rioolwater as “skoon” bepaal. Hierdie bepaling het altans verskeie inwoners hardop laat skater van die lag, aangesien verskeie dele van Ermelo en die omgewing se waterkwaliteit en toevoer laakbaar is, om die minste te sê. “AfriForum se nasionale blou-en-groendruppelprojek fokus op die stand van dorpe se drinkwater- en rioolaanlegte. Dié projekte fokus nie noodwendig op die toestand van die aanleg self nie, maar wel op die gehalte van die water wat ná die proses as eindproduk in die vorm van drinkwater en behandelde rioolwater gelewer word,” sluit Bekker af.

AfriForum versoek elke jaar dat die Departement van Water en Sanitasie (DWS) weer ’n blou-en-groendruppelverslag bekend maak en verwelkom dus dat die Departement vroeër vanjaar bekend gemaak het dat hulle weer die blou-en-groen-druppelverslag gaan opstel om sowel die waterkwaliteit as infrastruktuurkwaliteit in die land te bepaal. As die bewaarder van water kom die DWS nie sy verpligtinge na deur wetgewing toe te pas wanneer munisipale owerhede die skuldige partye is nie. Dit is van kardinale belang dat ons nie ophou om die gehalte van ons drink- en rioolafvalwater toets nie. Ons moet dié lewensbelangrike bron beskerm.

Die Tribune ePaper het navraag gerig aan AfriForum rakende die uitslae, en die bleek realiteit van die water in Ermelo. Tot hede is geen terugvoering ontvang nie.

bottom of page