top of page

'n Dekade van stank vir dank

GK CRONJE

12 October 2021

Gesagsfigure van MLM laat veel te wense in terme van dienslewering, sowel as verskeie wyksraadslede wat deeglik bewus is van die probleme waarmee inwoners te kampe het.

Suzuki Ermelo (WEB) 22 September 2020.jp

Met die munisipale verkiesing wat op 1 November 2021 plaasvind, staan munisipaliteite en politiese partye regoor die land paraat met goue beloftes en groot sprake van opgeknapte dienslewering en verandering in die land se chaotiese toestand. In Ermelo is dit egter ‘n heel ander storie. Terwyl die land se munisipaliteite benoude spronge gee, en soveel oënskynlike dienslewering as moontlik probeer lewer voor die verkiesing, gee Msukaligwa Plaaslike Munisipaliteit (MLM) nie ‘n dooie duit om nie. Inwoners van President Fouché Straat is warm onder die kraag nadat verkiesingsplakkate opgerig was in die area, terwyl die mense wild en wakker uitswaai vir slaggate, en rou riool die velde vol vloei. “Dit is skandelik, hulle het geen skaamte, en geen trots nie;” het ‘n hoogs ontstoke inwoner aan die Tribune ePaper gesê. “Die manne wat die plakkate kom opsit het hier naby my huis, sal mos nou met hulle bakkie deur die riool ry, agter op die bakkie staan en die plakkate teen die boom vas sit, en dan nog lag oor hoe die rou riool spat terwyl hul deur dit ry. In wat se wêreld is dit ‘n grap? Hoe laag moet jy daal om te lag oor dienslewering wat gefaal word deur die bank, terwyl jy jouself weer in ‘n leierskap posisie probeer inwurm? Ek weet nie waar gaan ons dorp, en ons land opeindig nie. Skandelik, dit is al woord wat ek aan kan dink.”

Ten spyte van die rioolprobleem wat al vir meer as ‘n dekade inwoners dwars in die krop steek, keur MLM steeds nuwe bouprojekte, bouplanne en uitbreidings links en regs goed, terwyl die omgewing, die fauna en flora, sowel as die inwoners aan die kortste end trek. Die vervalle rioolstelsel in President Fouchélaan en die omliggende wyke draai afwaarts op ‘n daaglikse basis, met munisipale bestuurders uit drie, en binnekort die vierde verkiesing, se beloftes wat steeds nie nagekom word nie. Die impak op die natuurlewe en vleilanddiere, veral die reiers wat Ermelo altyd verfraai het, is kommerwekkend. Die konstante riool besoedeling in hierdie area het die Pet Dam, wat altyd die tuiste van hierdie voêls was, so erg besoedel dat nie boom wat hulle nes gemaak het in, gevrek en verdor het. Die reiers het met die verdorring ook hulself skaars gemaak, en talle van die voêls is dood aangetref. Die impak van die besoedeling is ook bewys deur honderde visse in die Pet Dam wat gevrek het in 2016.

Dié besoedeling, direk veroorsaak deur rou riool vanaf President Fouchélaan en die area tot bo Camdenlaan, is doodluiters onder die mat ingevee. Die kwansuise water toetse wat gedoen sou word deur die munisipalitiet en die Gert Sibande Distrik, se resultaat het nooit die lig van dag gesien nie. Alhoewel die Tribune ePaper telkens navrae gerig het aan MLM rakende die besoedeling en die water toetse, het die munisipale woordvoerder en relevante departemente absoluut geen reaksie, en geen terugvoer verskaf nie. Navrae word bloot geignoreer deur die munisipaliteit. Afgesien van die rioolstorting wat na die Pet Dam vloei en 'n spoor van besoedeling en dood in die natuur agterlaat, sluit die oorloop van dié dam aan by die Klein Drinkwater stroom, wat uiteindelik in die reeds hoogs besoedelde Vaalrivier beland. In 'n omgewingsstudie wat gepubliseer is, word MLM, sowel as drie ander Mpumalanga-munisipaliteite, uitdruklik as die grootste skuldige partye in die jare lange besoedeling van die Vaalrivier beskou. Helaas, tot op hede is geen opgraderings of aksie deur MLM onderneem nie. Die situasie het inteendeel vererger, met die gereelde verstoppings en oorloop van die rioollyn in President Fouchélaan wat duidelik die groter probleemfaktor met die rioolnetwerk in die kalklig stel. Ontevrede inwoners in die area, wat met die konstante reuk van rou riool moet opsnork, terwyl menslike ontlasting, sanitêre produkte, kondome, lappe en toiletpapier in die somer son lê en bak, se pleidooi val op dowe ore. Die velde in hierdie gebied word voortdurend deurdrenk en is ‘n moeras van rioolwater en vullis, en hou ernstige gesondheidsimplikasies in vir inwoners, asook die leerders van die nabygeleë skole.

Gesagsfigure van MLM laat veel te wense in terme van dienslewering, sowel as verskeie wyksraadslede wat deeglik bewus is van die probleme waarmee inwoners te kampe het. Die Gert Sibande -distriksmunisipaliteit is ook by verskeie geleenthede oor die kwessie ingelig, maar beweer dat hul geen jurisdiksie in die aangeleentheid het nie, en dat die onus ten volle op MLM lê. Teen perstyd wag die Tribune ePaper steeds vir terugvoer rakende dié kwessie, wat al op 8 April 2021 aan Mandla Zwane, munisipale woordvoerder, gerig was. Hierdie navraag, sowel elke navraag vroeër, was bloot geignoreer. Meer foto's en video's kan op ons Facebook blad, Tribune Ermelo, gesien word.

bottom of page