top of page

Ruik soos gebrek aan dienslewering

GK CRONJE

25 May 2021

Hierdie riool loop dan verby ‘n nabygeleë skool, wat eerstens onaanvaarbaar is. Tweedens eindig die riool op in die Pet Dam, wat dan veroorsaak dat die dam verslyk.

Die skokkende nalatigheid vanaf Msukaligwa Plaaslike Munisipaliteit (MLM) rakende die onderhoud van die rioolsisteem in Ermelo en omliggende areas, laat talle inwoners om op te snork met rou riool, en die stank en gesondheidsrisikos wat gepaard gaan met verstopte rioolpype. Die rioolsisteem in President Fouché Laan is in so erge mate afgeskeep, dat daar op ‘n bykans weeklikse basis rou riool bruis vanuit die mangate. Hierdie area is al in die kollig vir meer as drie jaar, waar daar weekliks klagtes ingedien word, maar geen gehoor gegee word vanaf MLM nie. Geen daadwerkilike poging word aangewend vanaf MLM om die probleem op te klaar nie. Tot die bittere frustrasie van inwoners oorkant dié gemors, pleit MLM, sowel as wyksraadslede, bewusteloos, met die relevante departement van MLM wat die rioolpype halfhartig ontblok, in plaas van om direkte aksie te neem en die groter probleem van die infrastruktuur op te los. Inwoners moet maar net tevrede wees met die flou verskoning dat hulle die konstante probleme blameer op die feit dat daar onregmatig gebou en verleng word by baie wonings, sonder die goedkeuring van ‘n bouinspekteur of dorpsbeplanner.

Ander verskonings sluit in ‘n gebrek aan finansies, gebrek aan gereedskap en masjienerie, en ‘n reeks ander belaglike bogstories. MLM het in die verlede ook aangedui dat uitbreiding van die aantal inwoners die reeds bouvallige rioolsisteem uiteraard oorlaai. Inwoners van dié area laat egter nie weer toe dat MLM heuning om hul monde smeer nie, en beplan om protes aan te teken teenoor die beplande meenthuis kompleks in die area. “Ek weet nie onder wat se klip hierdie munisipaliteit se stadsbeplanner uitgekruip het nie. Ek weet nie eers of daar ‘n gekwalifiseerde beplanner is wat weet wat hy doen nie. Ek is nie geniaal nie, maar logika sê vir my dat daar geen manier is dat hulle net planne vir komplekse kan goedkeur, terwyl hul duidelik weet dat die infrastruktuur klaar vrot is nie.” Dié is die woorde van ‘n inwoner in die area, wat anoniem wil bly. “Hulle bou en bou en bou net, waar gaan dit eindig? Soos dit is sit ons bykans elke dag sonder elektrisiteit, en nou wil hulle nog ‘n spul komplekse bou. Hulle sê dat die 88kVA lyn “oorlaai” is, en dat dit die rede is dat ons in die donker sit en vingers tel. Maar tog keur hulle links en regs nuwe ontwikkelinge goed sonder om te aarsel. Soos dit is loop die stront die strate vol voor my huis, ek kan nie my deure of vensters oppmaak sonder om te versmag in die stank nie. My kinders kan nie buite speel nie want dit is uiters gevaarlik, veral tydens die COVID pandemie wat ons in is. Die munisipaliteit preek oor higiëne en wat nog alles, maar hulle kan nie eers basiese dienste verskaf nie. Waar is ons raadslid? Wie is ons raadslid? Geen mens weet nie. Ek het telkens die gesondheidsinspekteur in die hande probeer kry, maar loop in mure vas by die munisipaliteit. Hulle is van geen hulp nie. Skandelik, dit is die woord. Skandelik.”

Na aanleiding van die vorige verklaring wat deur MLM uitgereik was, is die toekoms donker vir inwoners van die area, omrede daar na bewering geen finansies in die MLM koffers is nie. Die toestand in President Fouché Laan is al van so aard dat daar slote gegrou is langs die mangate waar die rou riool uitborrel, en dié vloei dan vrylik na die middel van die veld toe. Hierdie riool loop dan verby ‘n nabygeleë skool, wat eerstens onaanvaarbaar is. Tweedens eindig die riool op in die Pet Dam, wat dan veroorsaak dat die dam verslyk. Die Tribune het met MLM se woordvoerder, Mandla Zwane, gepraat. Dié wil inwoners verseker dat daar aandag gegee word aan die probleem, en dat hy die relevante departement in kennis gestel het van die riool. Zwane het ook gesê dat hul ‘n plan van aksie bekend sal stel rakende die dienslewering in die area sodra die begrotingsvergadering afgehandel is. Sien meer foto’s en video’s op ons Facebook blad, Tribune Ermelo.

bottom of page