top of page

Rondloper beeste steek inwoners dwars in die krop

GK CRONJE

28 September 2021

Alhoewel dit 'n dringende kwessie in Ermelo is, wag almal in spanning dat MLM -amptenare nog beslissend optree.

Die kwessie van verdwaalde en rondloper vee in Ermelo woongebiede, omliggende areas en die buitewyke is al jare aan die gang, sonder enige optrede van die Msukaligwa Plaaslike Munisipaliteit (MLM) en die relevante departemente. In hierdie geval word verordeninge heeltemal geïgnoreer, en die wette word nie deur die owerhede afgedwing nie, wat 'n bose kringloop van frustrasie, saakbeskadiging en gevaar vir motoriste veroorsaak. Verskeie inwoners het gerapporteer dat hul honde onbeheerbaar opgewerk word deur die rondloper vee wat ronddwaal in die woongebied, veral in die De Bruin Park omgewing.

Klagtes vanaf inwoners beweer dat dié rondlopers so gewoond geraak het aan verkeer en gevloek van frustreerde motoriste en inwoners, dan die diere hul geensins steur aan die kwaad wat hul stook nie. Inwoners het ook klagtes ingedien van die rondlopers wat hul kom tuismaak in erwe, en ook vullissakke oopskeur op soek na peuselhappies. Verskeie motoriste het nouliks vermy om met hierdie diere te bots, wat ‘n veer voel vir aankomende verkeer. Motoriste wat moet uitswaai, skielik remme aanslaan, en aan die teenoorgestelde kant van die pad ry om hierdie diere te vermy, is teen die tyd al keelvol vir MLM, wat Gods water oor Gods akker laat loop.

Hierdie kwessie is egter nie net tot diewoongebiede beperk nie, aangesien inwoners verskeie klagtes ingedien het oor beeste wat in die begraafplase wei, en kosbare herinneringe vertrap, blomme opvreet en vase beskadig, en ander gedenkwaardighede verniel. Alhoewel dit 'n dringende kwessie in Ermelo is, wag almal in spanning dat MLM -amptenare nog beslissend optree. Op hierdie tydstip draai beide MLM en die SAPD in Ermelo ‘n blinde oog na die groeiende kwessie, wat al telkens ernstige beserings en lewensverlies tot gevolg gehad het. Navrae rakende die kwessie was op 9 September 2021 gerig aan die MLM woordvoerder, Mandla Zwane. Dié het egter die navraag doodluiters ignoreer, en het tot hede geen terugvoer gegee nie.

bottom of page