top of page

MBCF vorder met hofsaak teen MLM en Eskom

GK CRONJE

20 October 2020

MLM bestuur het egter die Tribune op verskeie geleenthede valslik verseker dat die NMD nie verminder is nie, en dat die kragonderbrekings te danke is aan verouderde infrastruktuur. Dit is egter te verwagte dat die NMD verminder is, siende dat MLM meer as R170 miljoen aan Eskom skuld.

Die Msukaligwa Bussiness & Community Forum (MBCF) 'n nie-winsgewende organisasie In Ermelo, dra die belange van Ermelo inwoners op die hart, en is besig om vinnige vordering te maak. Die forum het reeds ‘n reuse sosiale media volging, en nooi alle inwoners om aan te sluit by die forum. Besighede en inwoners kan by die MBCF aansluit teen 'n minimum bedrag van R300 per jaar vir 'n huishouding, en R1200 per jaar vir 'n onderneming. Die MBCF sal alle klagtes wat lede indien rakende water, elektrisiteit of dienslewering vanaf Msukaligwa Plaaslike Munisipaliteit (MLM), insluit in die hofsaak. Hierdie groep individue lê hul tyd en kundigheid volledig vrywillig neer. Die regspan het op Maandag, 12 Oktober, 'n tweedelige aansoek aan Eskom, MLM, die nasionale energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA), die premier van Mpumalanga, en die minister van minerale bronne en energie gerig. Hierdie aansoek, wat tans in die Noord-Gautengse hooggeregshof hangend is, sal dien om Eskom te verbied om die ladeningsvermindering, of “notified maximum demand” (NMD) te implementeer.

Die NMD wat tans in werking is, verhoed dat Eskom die nodige elektrisiteitstoevoer aan MLM verskaf, en is die rede vir die daaglikse kragonderbrekings wat inwoners ondervind. MLM bestuur het egter die Tribune op verskeie geleenthede valslik verseker dat die NMD nie verminder is nie, en dat die kragonderbrekings te danke is aan verouderde infrastruktuur. Dit is egter te verwagte dat die NMD verminder is, siende dat MLM meer as R170 miljoen aan Eskom skuld. MLM se wanbetaling was sedert 2011 verskeie kere in die kalklig, met Eskom wat menigte male gedreig het om die elektrisiteitstoevoer totaal en al af te sny. Dit is egter kommerwekkend dat MLM bestuur inwoners en besighede ‘n rat voor die oë gedraai het, en die infame “Kabel 88" blameer het vir die onderbrekings. Volgens die MBCF, staan Eskom Deel A, die aansoek, teë. Deel B van die aansoek is 'n hersiening van Eskom se besluit om NMD toe te pas, wat 'n irrasionele besluit is, gebaseer op die skending van grondwetlike regte van betalende inwoners en sakeondernemings. Dié word tans deur die hof hersien, en sal hopelik tersyde gestel word.

Die MBCF maak egter staat op die finansiële bydraes van inwoners en besighede om hierdie wettige veldtog suksesvol aan te dryf, om 'n beter en welvarende dorp vir almal te verseker. Aansoekvorms om ‘n lid te word van die MBCF is beskikbaar vir belangstellendes. Twee van die MBCF verteenwoordigers het ook onlangs met hul regspan, Andreas Peens. en advokaat Danie Wijnbeek vergader, en was baie beïndruk met die hoeveelheid navorsing en werk wat reeds gedoen was, en die manier waarop hulle van plan is om die saak te dryf. Inwoners en sake eienaars wat intussen tot die regskoste wil bydra, kan dit doen deur 'n inbetaling in die trustrekening van die MBCF prokureur, Andreas Peens, te maak. Die bankrekening besonderhede is as volg: Andreas Peens Prokureurs, ABSA lopende rekening, 409 642 0347, takkode 632005.

Inwoners wat bydraes maak, moet asseblief die verwysing AP792MBCF gebruik met die inbetaling. Belangstellendes wat navrae het oor die MBCF, en die saak wat hul ter harte dra, kan 072 401 1449 kontak.

bottom of page