top of page

Inwoners ruk hand uit by Pet Dam

GK CRONJE

30 August 2022

Die Pet Dam, wat veronderstel is om toegang gekontroleer te wees nadat MLM miljoene Rande bestee het aan omheining, is ‘n klap in die gesig van Ermelo inwoners.

Sien meer foto's en 'n video op ons Facebook blad, Tribune Ermelo.

Die Pet Dam. Die partytjie plek. Die stortingsterrein. Die musiek verhoog. Die buitelug ablusie. Die een area in Ermelo waar mens kan drink tot jy omval, terug na jou voete sukkel, in jou voertuig in slinger, jou enjin aanskakel, en in die donkerte van die nag wegjaag met bande wat skreeu. Die Pet Dam bly maar eens ‘n doring in die vlees van Ermelo inwoners, klaarblyklil versteek onder 'n sluier van ondeelbaarheid, waar allerlei onwettige aktiwiteite heeltemal geïgnoreer word deur beide wetstoepassers en Msukaligwa Plaaslike Munisipaliteit (MLM). Die voortdurende rommelstrooiery van besope inwoners, geraasbesoedeling van vroegoggend tot ver na 02:00 soggens, openbare ontlasting en urinering in die dam en op die perseel, roekelose en nalatige bestuur onder die invloed van alkohol, afvuur van vuurwapens, die aanhoudende stroom voertuie wat die verkeerswette verontagsaam, prostitute oplaai en aflaai, en dubbelparkeer in die pad terwyl karig geklede dames op en af marsjeer, laat veel te wense oor.

Boonop het 'n ondernemende individu dit oënskynlik op homself geneem om 'n karwas in die Pet Dam se parkeerterrein te open. Die Mpumalanga Drankwet maak dit tog duidelik dat enige persoon wat gewelddadig, dronk of wanordelik is op enige perseel of plek waartoe die publiek toegang het of gegun word, of wat enige drank in enige pad, straat, baan of deurgang verbruik, opgelê kan word met 'n boete of gevangenisstraf. Enige persoon wat enige bepaling van hierdie Wet oortree, is skuldig aan 'n misdryf, en strafbaar met 'n boete soos van tyd tot tyd bepaal kan word, of gevangenisstraf vir 'n tydperk van hoogstens twee jaar, of met beide sodanige boete en gevangenisstraf. Behalwe dit, stel die MLM-verordeninge dit duidelik dat geen persoon ‘n gevaar mag wees of 'n oorlas, aanstootlik of 'n ergernis vir die inwoners of publiek mag wees nie.

Dié wette word egter op ‘n daaglikse basis oortree, met absoluut geen reaksie vanaf MLM of ander owerhede nie. Die munisipale verordeninge bepaal verder dat geen persoon dronk mag wees, 'n oorlas van homself maak deur die gebruik van alkohol of ander bedwelmende middels, of enige oorlas in 'n openbare park mag pleeg nie. Ongelukkig skaterlag dié inwoners in die gesig van die gereg, want geen wetstoepassing kan waargeneem word nie. Ten tyde van publikasie, was die vermelde boete R2 000, oftewel 6 maande gevangenisstraf. In die lig van bogenoemde, sal dit aanvaarbaar wees om te verklaar dat MLM in werklikheid nie hul eie verordeninge op enige manier of vorm afdwing nie, en dat wetteloosheid die oorhand kry. Die SAPD kan nie alleenlik ten volle aanspreeklik gehou word om teen oortreders op te tree nie, aangesien dit die direkte verantwoordelikheid van MLM en die raad is om genoemde verordeninge toe te pas. Die Pet Dam is besaai met allerlei rommel, alkoholbottels, plastiek en houers, menslike ontlasting, gebruikte toiletpapier, gebruikte kondome en meer. Gemors dobber op die dam se water, en alge as gevolg van die besoedeling versmoor die ou paar oorlewende visse.

Ten spyte van talle klagtes van inwoners in die omgewing, leë beloftes van raadslede in Ermelo, en flou waarskuwings van plaaslike wetstoepassers, gaan die partytjie voort, met geen einde in sig nie. Inwoners rondom die Pet Dam lê herhaaldelik klagtes by owerhede oor die geraasbesoedeling, geskreeu, drankbottels wat stukkend gegooi word, en die algemene onbedagsame, sorgvrye houding deur besope individue. Die dronkbestuur van partytjiegangers hou 'n risiko in vir alle inwoners en motoriste van Ermelo maar, helaas, klagtes val op dowe ore. Die Pet Dam-gebied, sowel as die oorloopgebiede is as vleilande geklassifiseer, maar owerhede toon 'n verbasende gebrek aan kommer oor die besoedelingskwessie wat hierdie terrein teister. Prominente besoedeling van die Pet Dam kan reeds vanaf 2009 opgemerk word, met die Departement van Water en Sanitasie (DWS) wat terreininspeksies op 14 Julie 2010, 11 November 2011 en 14 Junie 2012 gedoen het. Volgens die inspeksies het MLM rioolbesoedeling, rioolvuil geïgnoreer, en die impak op die omgewing is drasties.

Volgens DWS-dokument 2193, het MLM óf versuim om op uitgereikte kommunikasie te antwoord, óf 'n onvoldoende aksieplan ingedien. Tot vandag toe word die Pet Dam steeds op 'n daaglikse basis besoedel, vanaf rou riool tot menslike ontlasting, plastiek, glas en ander rommel, met geen optrede deur die gesag nie. Tydens November 2018 se verwoestende visdood het beide Gert Sibande Distriksmunisipaliteit (GSDM) en MLM na bewering watergehaltetoetse uitgevoer, en die resultate is belowe om aan die publiek en media bekend gemaak te word sodra dit beskikbaar word. Tot vandag toe wag die inwoners in spanning vir die resultate. Die Pet Dam, wat veronderstel is om toegang gekontroleer te wees nadat MLM miljoene Rande bestee het aan ‘n omheining, is ‘n klap in die gesig van Ermelo inwoners. Die omheining val letterlik uitmekaar uit van die roes, gedeeltes is verwoes edur voertuie en vandalisme, en is nooit herstel nie. Die hekke, wat versonderstel is om gesluit te wees, se slotte is afgebreek en die hekke is opsy geskuif. Die kwansuise sekuriteit wat deur die munisipaliteit aangestel sou word om wet te handhaaf by die dam, het nooit die lig van dag gesien nie. Op hierdie stadium van die geveg is die Pet Dam niks meer as ‘n besoedelde, ononderbroke partytjie terrein nie.

bottom of page