top of page

GMM inwoners in groot waterverknorsing

GK CRONJE

24 November 2020

GMM skuld Rand Water 'n astronomiese bedrag van R314 miljoen, en het herhaaldelik versuim om betalingsooreenkomste na te kom.

Die feit dat Govan Mbeki Munisipaliteit (GMM) inwoners totaal en al gefaal het ten opsigte van dienslewering sit dwars in die krop van alle inwoners en besighede onder die GMM-dienslewerings gebied. Watertoevoer na die GMM gebied is met bykans 60% gesny, nadat GMM weereens nie hul betalingsooreenkoms nagekom het aan Rand Water nie. Nadat inwoners grootskaalse amok gemaak het ten opsigte van GMM se swak diensleweing, beskuldig GMM nou vandale vir die beskadiging van verskillende pompstasies, wat die situasie glo vererger omdat water nie in en uit die waterreservoirs gepomp kan word nie.

Inwoners en besighede val egter nie vir hierdie veskoning nie, aangesien die toevoer al vir ‘n aantal jare agteruit gegaan het, en tans op die drumpel van totale afsluiting is. GMM skuld Rand Water 'n astronomiese bedrag van R314 miljoen, en het herhaaldelik versuim om betalingsooreenkomste na te kom. Gebiede op hoë vlak word veral grootliks geraak. Die negatiewe verkleuring van water sal die gemeenskappe van eMbalenhle, Leandra, Kinross, Evander, Secunda, Trichardt, Bethal en eMzinoni beïnvloed, aangesien die waterdruk onvoldoende is. Rand Water het ook 'n terugbetalingsvoorstel wat op 24 Augustus ingedien is, van die hand gewys.

bottom of page