top of page

Ermelo stortingsterrein behaal 'n treurige 8% gradering

GK CRONJE

26 July 2022

In 2022 het die munisipaliteit hulself oortref met ‘n gradering van slegs 8%.

AfriForum het vanjaar 162 vullisterreine landwyd geoudit as deel van dié organisasie se nasionale projek om die gehalte van vullisterreine in Suid-Afrika te meet. Nie een van die 22 vullisterreine wat in Mpumalanga geoudit is, het aan nasionale standaarde voldoen nie. Kragtens toepaslike wetgewing en regulasies, waaronder die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis 59 van 2008, moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen. Volgens Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld, is die vullisterreine in hierdie provinsie in ’n haglike toestand.

“Dit is duidelik dat geen beheer toegepas word by hierdie terreine nie en dat dit net nog ’n voorbeeld is van die totale agteruitgang van munisipale dienste in ons land.” Die Ermelo-stortingsterrein is al jare lank 'n onderwerp van omstredenheid, met miljoene rande wat vermors is op kontrakteurs en onnodige rehabilitasies van die terrein, net sodat dit slegs maande ná rehabilitasie uit die genade val. In 2015 het Msukaligwa Plaaslike Munisipaliteit (MLM) 'n indrukwekkende 84% voldoeningsgradering behaal. Ongelukkig dit het van daar af na die honde gegaan. Volgens die oudit het dit in 2016 52% behaal, en 42% in 2017. In 2018 en 2020 is die munisipaliteit elke jaar 18% gegradeer. In 2019 het MLM egter in wese hul nakoming heeltemal misluk, met 'n gradering van 2%. In 2021 se oudit het die munisipaliteit 'n voldoeningsgradering van net 10% behaal, wat ver onder selfs die laagste van aanvaarbare standaarde is.

Nietemin het die munisipaliteit hulself oortref met ‘n gradering van slegs 8%. Op hierdie trant sal die stortingsterrein geklassifiseer word as te gevaarlik, indien dit minder as 2% behaal. Bekker sê die mees algemene probleme wat AfriForum tydens die oudit opgemerk het, is die afwesigheid van afvalbestuurslisensies en ’n algehele wanbestuur van terreine. “Dit wil voorkom of daar geen doelwit of plan is om op munisipale vlak hierdie dringende probleem op te los nie, en sal ons as AfriForum dus met die relevante owerhede kontak maak om die probleem te probeer oplos, dit is ’n absolute skande om te sien hoe van die terreine lyk en dit is onaanvaarbaar dat daar niks aan die probleem gedoen word nie. Munisipale verval is aan die orde van die dag, en dit is ooglopend dat veral kleiner munisipaliteite onder grootskaalse wanbestuur gebuk gaan,” sê Arlo van Heerden, distrikskoördineerder vir die Laeveld.

bottom of page