Kommer oor gerehabiliteerde Wessel Weg

press to zoom

press to zoom

press to zoom

press to zoom
1/3

GK CRONJE

28 September 2021

Met die reënseisoen wat sterk oppad is, is die kanse dat die oppervlak van die roete dit gaan maak tot volgende jaar hierdie tyd redelik skraal.

Motoriste en besighede het ‘n sug van verligting laat val rakende die onlangs gerehabiliteerde Wessel Weg, want die pad was voorheen 'n volslae nagmerrie vir verbruikers. Na ‘n uitermatige lang gespoeg en spartel tussen Burlec Electrical en Msukaligwa Plaaslike Munisipaliteit (MLM), het ‘n hofbevel die munisipaliteit egter forseer om die roete te herstel, asook om die onkostes te dra wat aangegaan was deur Burlec Electrical. Alhoewel meeste heel tevrede en dankbaar is dat die oppervlak van die roete nou glad en nuut is, is daar egter bekommernis vanaf die publiek en besighede in die area. Die afrondingswerk van die roete laat veel te wense oor, en laat rooi ligte flits oor die duursaamheid van die oppervlak. Die stormafvoer geute is geensins geïnstalleer nie, en die kante van die roete is ‘n ramp wat wag om af te speel. Met nadere ondersoek kan daar opgemerk word dat die dikte van die teer op die oppervlak oneweredig is, en op sekere areas ‘n skamele 1cm dik is.

Met die reënseisoen wat sterk oppad is, is die kanse dat die oppervlak van die roete dit gaan maak tot volgende jaar hierdie tyd redelik skraal. Verdere kwessies wat geopper word is die afrondings van die roete wat na die ingange van besighede lei. Die rand van die roete, waar die randstene en afvoer geute veronderstel is om te wees, ins slegs ‘n onbegaanbare sloot, soveel so dat afleweringsvoertuie aan die oorkant van die pad moet parkeer om voorraad af te laai. Motoriste en kliënte wat kleiner voertuie besit se kanse is min om deur die sloot te kom tot by die parkeer areas. Verder is daar ook kommer uitgespreek oor die opruiming van die area. Die puin van die herboude rybaan is doodluiters in die nabye veld gestort, gepaard met verskeie ander rommel items en boumateriaal wat gebruik was deur die kontrakteurs. Die Tribune ePaper het navraag rakende die kwessies gerig aan die verteenwoordiger van MLM, Mandla Zwane. Teen perstyd het Zwane egter versuim om terugvoer te verskaf.