top of page

Geslagsmisdade bekommer VF Plus

Geslagsmisdade bekommer VF Plus

GK CRONJE

7 July 2020

Tans is daar 2 797 agterstallige geweldsmisdaad-verwante dossiere in die provinsie, waarvan slegs 46 tot 'n mate ondersoek is. Geen inhegtenisnemings is in verband met die dossiere gemaak nie.

Geslagsgeweld en vrouemoord wat vyf keer hoër as die wêreldwye gemiddeld is, is 'n ernstige en wydverspreide probleem in Mpumalanga en het 'n buitensporige traumatiese invloed op vroue en kinders in dié provinsie. Dit getuig van 'n kultuur van geweld en verkragting. Altesame 6.8% van alle vroue in Mpumalanga sê hulle is in hul leeftyd verkrag. Die VF Plus in Mpumalanga is van mening dat die syfers moontlik hoër kan wees omdat slagoffers van geweld dit nie geredelik aanmeld nie aangesien vonnisse onvoldoende is en howe vir seksuele oortredings slagoffers nie genoegsaam beskerm nie. Dié verkragtingskultuur word sodoende genormaliseer en plaas die blaam op vroue en kinders om hulself te beskerm, in stede daarvan om die oortreders vas te vat.

Dit raak sodoende sistemies en diep verskans in instellings, kulture en word bykans as tradisie vir sommige beskou. Dit is een van die grootste skending van menseregte wat verreikende maatskaplike en ontwikkelingsgevolge het vir die slagoffers, hul families, gemeenskappe en die groter samelewing. Die polisie moet toesien dat daar voldoende verkragting-toetsstelle by polisiekantore in Mpumalanga is en dat polisielede opgelei moet word oor hoe om slagoffers met die nodige empatie by te staan. Dit sal die opeenhoping van agterstallige gevalle verhinder. Tans is daar 2 797 agterstallige geweldsmisdaad-verwante dossiere in die provinsie, waarvan slegs 46 tot 'n mate ondersoek is. Geen inhegtenisnemings is in verband met die dossiere gemaak nie.

bottom of page