Lardus sit die virus ore aan, deel sy storie

1/2

GK CRONJE

25 May 2021

Ek het gehoor hoe hy sukkel en hyg na asem met sy long funksie wat so swak is. Die volgende oomblik is dit stil. Dit is die ergste stilte wat ek nog ooit beleef het.

Suzuki Ermelo (WEB) 22 September 2020.jp

Lardus Botha, ‘n geliefde en dierbare in Ermelo, is onlangs uit die Ermelo Medi-Clinic ontslaan na ‘n harde stryd met COVID-19. Lardus het verlede week sy storie met die Tribune ePaper gedeel met die hoop om meer insig en raad te gee aan inwoners. Lardus het op 27 April 2021 ligte griep simptome getoon, maar het nie veel gedink daarvan nie. Hy het vitamienes gedrink en gedink hy sal soos altyd vanself herstel. “Ek is meer as twintig jaar laas in die hospitaal. Ek is oor die algemeen nie sieklik nie, en ek kry oefening in waar ek kan.” het Lardus aan die Tribune ePaper gesê. Maar, wat begin het as ligte griep, het Lardus spoedig getakel en hy het al hoe slegter begin voel. “Op 3 Mei het ek soos ‘n hond gevoel. Ek was regtig siek, en het maar besluit om mediese hulp in te roep. Ek is na my dokter toe, waarna sy my aangeraai het om ‘n COVI-19 toets te doen. Kan jy my skok indink toe die toets positief uitkom?” Lardus se gesig raak emosieloos toe hy die res vertel. “ My dokter het aangeraai dat my gesin ook getoets moet word vir die virus. Ongelukkig was my hele gesin gediagnoseer met hierdie verpresting op 6 Mei. Wat is die kanse dat my hele gesin die virus sal opdoen?”

Lardus se gesin het hulself in isolasie geplaas tuis, en het gelukkig herstel van die virus sonder enige komplikasies. Lardus vertel hoe hy opgeneem was op 6 Mei nadat hy gesukkel het om asem te kry, onder andere. “Ek kan die gevoel nie beskryf nie. Jy is heeltyd doodmoeg. Jy hyg, maar jy kry nie genoeg asem nie. Jou longe voel te klein vir jou lyf. Ek is opgeneem en hande en hande vol medisyne gevoer, omtrent twaalf pille daagliks. Ek het so gesweet, julle verstaan nie. Ek moes in die nag opstaan en op ‘n aparte stoel sit sodat my klere en beddegoed eers bietjie kan droog word. Dit klink nie na veel nie, maar ek het 9KG verloor in die tyd wat ek opgeneem was. Ek het emmers vol gesweet, elke uur is ek wakker dan is ek papnat. Alles het gevoel soos moeite, want jou lyf het nie krag nie. Om badkamer toe te gaan was ‘n straf, want jy het doodeenvouding net nie die krag in jou lyf nie.” Lardus skuif ongemaklik rond gedurende die volgende deel van sy storie.

“Die ergste vir my was die isolasie. Alhoewel die mediese personeel tops was, en die mans-verpleegster ‘n regte yster was en my elke dag probeer opkikker het, was die stilte en die alleenheid die ergste. Omdat ‘n mens basies in kwarantyn is, mag daar geen besoekers inkom nie. My gesin mag gladnie besoeke afgelê het nie, en so ook nie my vriende nie. Wat my emosioneel die ergste getal het was ‘n man wat hul ingebring het wat langs my gelê het. Hy het ook COVID-19 simptome gehad, maar op ‘n erge graad. Ek het toegekyk hoe die mediese personeel spartel en alles moontlik doen om hom te help, maar te vergeefs. Die man is ‘n paar uur later oorlede. Ek het gehoor hoe hy sukkel en hyg na asem met sy long funksie wat so swak is. Die volgende oomblik is dit stil. Dit is die ergste stilte wat ek nog ooit beleef het. Die finaliteit van sy laaste asem wat hy uitblaas bly ‘n mens by.” Lardus sit vir ‘n paar sekondes in stilte. “My dogter het naderhand vir my ‘n abstrakte inkleurboek gebring, want ek was op die rand van depressie. Om te dink dat die dood vir jou wag om elke draai tydens die siekte is uitmergelend. Jy sit en dink aan nonsens, want jou gedagtes dwaal heeltyd terug na COVID-19, hoe sleg jy voel, en die vrees dat jy die stryd gaan verloor. Die feit dat jou hele lyf heeltyd so onbeskryflik seer is help ook nie veel nie.” Lardus gee ‘n klein glimlag.

“Die beste advies wat ek kan gee vir mense wat COVID-19 opdoen, en opgeneem word... Hou jou gedagtes van COVID-19 af. Hou jou brein besig, en moet nie lê en tob oor wat dalk kan gebeur nie. Hou moed, hou aan veg en glo dat jy gaan gesond word. Sodra jy op ‘n hoop gaan sit en jouself bejammer, het jy die stryd klaar verloor. Doen al die oefeninge wat die fisioterapeut vir jou gee gedurende jou herstel, al voel dit hoe moeilik. Ek kon nie eers ‘n gewone ballon opblaas nie, want my longe was kapoet. Die basiese oefeninge van my arms oplig en bene beweeg was ‘n opdraande stryd elke dag. Dit gaan ‘n rukkie vat om ten volle te herstel, ek kan nou selfs skaars 10 meter loop sonder om te voel asof en die Comrades nounet gehardloop het nie.” Lardus sterk tans aan by die huis, en dit gaan baie goed met hom.