Aan my liefste ouma, my laaste brief

press to zoom

press to zoom
1/1

Supplied Content

14 June 2022

"Ons het ouma lief, hierdie is my laaste brief aan my oumie. Ek is jammer, ouma."

Suzuki Ermelo (WEB) 22 September 2020.jp

Brief - My hart is seer, my oë moeg, ek was nie gereed om ouma so te groet nie. Ek is so ongelooflik jammer dat ouma se laaste paar maande op die aarde, ouma se maande van hel was. Ek wens ek kon tyd terug draai, maar al wat ek nou kan doen is om ouma se verhaal te vertel met die hoop dat ander kinders en kleinkinders mooi dink voor hulle ooit hulle oupa’s en ouma’s in Ermelo SAVF ouetehuis sit. Ek is jammer ouma se mond was goud geel, aangeplak en vrot van die plaak toe ouma uiteindelik opgeneem is in die hospitaal, na dae wat ouma nie kon eet of drink het nie. Ek het gedink ouma is vol nonsens, maar toe die dieëtkundige moes jaag om ouma se mond met koeksoda skoon te probeer skrop, en sy vir ons sê dat ouma nie sou kon eet nie want met so aangeplakte vuil mond proe alles wat ouma ineem letterlik vrot, en soos uriene, het ek my hart voel breek! Ouma het letterlik net swakker en swakker geword omrede ouma nie kon eet nie, nie omdat ouma nie wou eet nie. Toe ons die tehuis vra vir ouma se tandeborsel was daar nie eers een in ouma se “frail care” kamer nie!

Ek het keer op keer waneer ek kom kuier het ouma se vol kateter sak op die vloer opgetel, waar die sak oop en bloot net op die grond langs ouma se bed gelê het. Die pyp van daai sak is ook net so lank! Ek kan nie dink hoe seer dit in ouma se privaat dele moes wees nie! Dit moes vreeslik getrek het! Watse verleentheid dit nie vir ouma moes wees nie! N eens mooi statige, altyd netjiese vrou, nou ‘n verwaarlose tannie, met haar uriene op die grond langs haar bed! Sou dit so baie moeite wees vir die verpleegsters, of selfs bestuur, om dit net toe te maak met ‘n deel van ouma se laken, en op die hak van die spesiale bed waarin ouma gelê het te hak! Dis tog immers waarom die bed een het! Ek’s so jammer ouma moes sulke vernedering deurgaan. Vir dae aaneen kon ouma ook nie eet nie, omrede die kos wat vir ouma gegee is nie gepas was vir ouma se behoeftes en swak stadium nie... wat my die seerste maak is dat daar nie eers iemand was wat ouma probeer voer het nie!

Ouma was bedlêend, maar ouma se naels was bruin vuil van die aangepakte kos soos ouma self probeer eet het! Plat op ouma se rug moes ouma probeer oorleef. Snags het boeta gery om ouma se water bottel, wat dae en ure lank leeg was, by die kraan vol te maak. Hoeveel keer het ek nie by ouma se bed gekom en gesmeek, asseblief, maak net my ouma se water vol nie. Hoeveel ure voor ons kon kom kuier, selfs soms dae, het ouma sonder ‘n druppel water deur gegaan nie? Ek is jammer ons kuier is kort geknip die dag wat die tannie twee kamers weg van ouma op die koue teëls geval het. Ek kon haar gehuil en geroep na hulp nie meer ignoreer nie, en het na die susters stasie, direk oorkant haar kamer, gegaan en die personeel gesmeek dat hulle my asseblief moet kom help haar optel. Jammer ek kon nie langer sit en ouma se naels ,wat bruin van vuil was, skoon maak nie.

Ouma, ek weet ouma het ‘n skoon netjiese kamer verdien, dis waarom ons maar beurte probeer maak het om ouma se kamer op te ruim, en ouma se asblik wat altyd oorvol was, leeg te maak. Dit het my gebreek toe ek die hoeveelste keer pille onder ouma se bed op die vuil vloer moes kry... Tot vandag toe kan niemand vir my sê hoekom niemand seker gemaak het ouma drink ouma se pille nie! Hoekom niemand ouma gehelp het as ouma dit laat val nie. Ek kan net dink hoe frustrerend dit vir ouma moes wees, ouma was bedlêend en kon dit nie eers self optel nie.

Ek weet ouma het ‘n hele paar keer probeer kla, maar elke keer is ouma se klagtes uitgemaak as ouma se eie skuld. Hoeveel keer het ouma nie my hand gegryp as ek gegroet het nie, en my gesmeek om aseblief net ouma saam te vat, ek wens ek kon, maar ek kon nie. Ek is net bitter bly, maar met ‘n seer hart, nou kan ek ouma se verhaal van hel vertel want nooit weer kan hulle op ouma pik omdat ouma praat van wat aangaan in daai gebou van hel nie. Ek wens ek het ouma eerder in Hendrina Ouetehuis gesit, maar ons het geglo wat die nuwe bestuur in Ermelo ons belowe het! Ons het geglo dat ouma met liefde en respek behandel sou word, en die beste diens en 24 uur hulp in die “frail care” eenheid na ouma se operasie sou kry! Dat die personeel “top”opgelei is om ouma die nabehandeling te kon gee van die operasie. Ons het ten duurste betaal vir al die mooi beloftes! Mamma en pappa kon ouma nie invat nie, hulle is self nie meer vandag se kinders nie.

Ek en boeta werk voldag, en sou nie ouma kon versorg 24 uur ‘n dag nie, maar ouma hoe spyt is ek nie vandag ons het nie geweet wat vir ouma wag nie! Ouma is letterlik net in die ouetehuis gelos om dood te gaan. Die ou, maer tannie wat in die hospitaal gelê het, se nalaat op haar liggaam bewys die hel waardeur ouma is! Nuwe oor geverfde gange en gordyne, opgedonste kamers, 5-ster professionele diens, beste gehalte gesonde kos gepas vir ouma se toestand en al die nuwe bestuur se mooi beloftes is nie wat ouma beleef het nie. Die jaar 2022 was ouma se laaste jaar, op 24 Mei 2022 is ouma hospitaal toe. Dokter het gesê hy gaan ouma nie terug stuur as ouma hier uit kom nie, want hulle kan nie vir ouma sorg nie, ouma was in ‘n walglike kondisie. Op 2 Junie 2022 het Liewe Jesus ouma kom haal. Of dit ouma se tyd was, weet ek nie, maar dokter kon nie ouma se infeksie telling afkry nie, as gevolg van ouma se bakterieë in ouma se mond wat alles binne ouma aangetas het! Ouma, ek weet ouma is nou pyn vry by Liewe Jesus, maar moes ouma so mishandel en verwaarloos word, so seer hê voor ouma se dood?

Is dit waarvoor ons so bitter duur betaal het? Ons kan ouma nooit terug bring nie! Ek kan nie eers vir ouma sê ek is jammer nie, al wat ek kan doen is om ander oupa’s en ouma’s te red met ouma se laaste paar maande se gebeure! Al wat ek kan doen om die seer, die lelik beter te maak, is om ouma se waarheid van hel te deel! Al help dit een persoon om twee keer te dink voor hulle hul geliefdes in daai gebou in druk, dan is ouma se lyding ten minste iets werd! Jammer ek kon nie vroeër praat nie, ek was te besig om my ouma te sien uit teer en doodgaan.

Ons het ouma lief, hierdie is my laaste brief aan my oumie. Ek is jammer, ouma. - Hartseer Kleinkinders