top of page

Slaggat-hel maak die lewe moeilik

GK CRONJE

1 December 2020

Die Tribune het navraag gedoen rakendie die plan van aksie vanaf MLM, en teen tye van pers het die munisipaliteit die navraag bloot ignoreer.

Inwoners sit met hul hande in die hare met die agteruitgang van Ermelo se paaie, en die skade wat hul ly as gevolg van die enorme slag- en sinkgate. Van die groot klagtes is van motoriste wat gebruik maak van Havenga Weg en Merino Straat, waar dit ‘n nagmerrie is om uit te swaai sodat jou voertuig se bande nie beskadig word nie. In Havenga Weg is daar net gruis en sand deur Msukaligwa Plaaslike Munisipaliteit (MLM) gestrooi, wat van geen nut is siende die reën meeste van die reuse slaggate oopspoel. Die konstante stroom swaarvoertuie help ook nie veel nie, en die oppervlakte van die pad gaan agteruit op ‘n daaglikse basis. Kleiner voertuie moet draaie ry om die stukkies teer raak te ry, en die skerp klippe en gruis verniel motoriste se bande.

Motoriste in Merino Straat moet aan die verkeerde kant van die pad ry, en aankomende verkeer moet toegee, siende dat groot dele van die padoppervlak gesaai is met slaggate, sommige met ‘n diepte van bykans 20cm. MLM het in Maart 2020 ‘n groot deel van die pad opgegrou by die Merino en Feniks kruising, wat tot hede net so gelaat is, sonder om die omliggende area op te ruim, of die oppervlak weer te teer. Motoriste wat gebruik maak van die pad moet oor diekruising kruip om skade aan hul voertuie te verhoed. Bourommel lê op die sypaadjies, en die kruising, gepaard met die groot aantal slaggate, vererger die vloei van verkeer.

Klagtes was ook ingedien rakende die slaggate tydens die reënseisoen, waar die uitermatige aantal slaggate bykans onsigbaar is, veral in die donker. Die Tribune het navraag gedoen rakendie die plan van aksie vanaf MLM, en teen tye van pers het die munisipaliteit die navraag bloot ignoreer.

bottom of page